Sakelui-inisiatiewe nodig vir stabiliteit | News24 (2024)

Die laaste tyd hoor en lees ’n mens dikwels van sakelui wat aanvoer dat hul primêre rol is om hard te werk, vir hul aandeelhouers geld te maak, werkgeleenthede te skep en, les bes, belasting te betaal.

Neem hierdie redenasies egter ooit in ag dat sakeleiers ook ’n ­breër maatskaplike verantwoordelikheid het in ’n land waar die klimaat vir ontwikkeling en investering deur onsekerheid en onstabiliteit bedreig word?
Hierdie kwessies laat my gedagtes onwillekeurig dwaal na 1976. Toe, nes nou, was Suid-Afrika se vreedsame bestaan ernstig bedreig.

Daar is weliswaar groot verskille tussen toe en nou.

Destyds was dit sanksies, boikotte, die politieke bedreiging van ’n onvergenoegde massa en die toenemende ekonomiese en diplomatieke isolasie van die land.

Vandag is daar ’n volgehoue aanslag op ’n onafhanklike en bedrewe regbank, die onaantasbaarheid van eiendomsreg en mediavryheid.

Ons is weer op pad na ’n bestel waar ras deurslaggewend is vir bekwame jong landsburgers om werk te kry. Ekonomiese vryheid word al hoe meer deur ongeregverdigde staatsinmenging bedreig. Korrupsie is aan die orde van die dag. Armoede en werkloosheid neem steeds toe met die gepaardgaande bedreiging wat dit vir stabiliteit inhou.

Een ding bly egter presies dieselfde: Die versugting van Suid-Afrikaners om ’n land te bou waaroor hulle kan sê: “Dit is ’n land waar reg en regverdigheid geld en waar die waardigheid van al sy landsburgers erken en beskerm word.”

En net soos in 1976 is daar talle besorgde landsburgers wat die ongunstige omstandighede wat tans geld as ’n uitdaging beskou.

Die burgerlike samelewing is pro-aktief en speel ’n dinamiese rol om ongeregtigheid aan die kaak te stel.

Talle instellings is besig om op verskeie gebiede die bedreigings die hoof te bied – deur regsgedinge, drukgroepe of deur blootstelling in die media.

Vrye media en ’n bekwame en onafhanklike regbank bly ons belangrikste beskerming teen magsmisbruik.

Het die sakegemeenskap in dié opsigte ’n rol te speel? Hier kan ons baat vind by die lesse geleer in die 14 jaar ná 1976.

Destyds het sakeleiers algaande besef die NP-regering gaan nie sy apartheidsbeleid – met al sy inherente ongeregtighede – sonder druk uit burgerlike geledere hervorm nie.

Dit is waarom ’n groot saamtrek van wit sakelui en swart leiers in November 1976 onder leiding van Harry Oppenheimer en Anton Rupert in Johannesburg belê is.

Uit dié beraad is die Stedelike Stigting gebore – ’n organisasie wat in die daaropvolgende jare ’n belangrike rol sou speel om ’n klimaat te skep wat dit uiteindelik vir oudpres. FW de Klerk moontlik sou maak om apartheid finaal die rug toe te keer.

Die stigting se hoofdoelwitte was om swart mense stedelike eiendomsreg te gee, om instromingsbeheer af te skaf en om swart mense meer gelyke geleenthede in die werkplek te gee.

(Ek onthou steeds die woorde van my mentor en bondgenoot Lang David de Villiers, destyds besturende direkteur van Naspers, aan my toe eiendomsreg uiteindelik aan swart mense toegestaan is: “Jan, daar val die eerste pilaar van apartheid.”)

In sy boek Eindstryd som Willie Esterhuyse die Stedelike Stigting se rol soos volg op: “Dit was in die tyd ’n belangrike beitel wat die granietrots van apartheid aangedurf het.”

Hy skryf die stigting se strategie was om hom toe te spits op “gefokusde hervorming van die kardinale aspekte van die apartheidstelsel” en apartheid sodoende “evolusionêr” te vervang sonder om stabiliteit in die gedrang te bring.

Is dit nie tyd om terug te keer na dié resep nie?

Ons benodig gefokusde inisiatiewe wat deur die sakegemeenskap gelei word wat die behoeftes van ons agtergeblewe swart jeug takel en terselfdertyd ons jong, nie-swart landsburgers oortuig dat daar ’n waardige en waardevolle toekoms vir hulle in Suid-Afrika is.

Die private sektor se kundigheid, vermoëns en bestuursvernuf is onmisbaar om behoorlik gekoördineerde instellings te skep, te ondersteun en te bestuur.

Ons soek dus meer sakeleiers soos Reuel Khoza, Garth Griffin en Gareth Ackerman. Mense wat nie net ons politieke indoenas waarsku as hulle nie leiding gee nie, maar ook sê: “Ons sal wys wat en hoe dit gedoen kan word.”

Baie gesonde en indrukwekkende inisiatiewe is reeds op dreef wat die owerhede via ons howe en ander kanale aandurf. Die organisasies het egter ’n behoefte aan kundigheid, ervaring en baie sterker geldelike ondersteuning.

Reg en geregtigheid is die hoekstene van ’n stabiele, vooruitstrewende bestel. Want, soos Sint Augustinus dit honderde jare gelede gestel het: “Neem regspleging weg, en wat is koninkryke anders as bendes misdadigers op groot skaal.”

As sakeleiers moet ons ons afvra wat ons antwoord gaan wees wanneer ons kleinkinders ons eendag vra wat ons gedoen het toe ons geliefde land op die afdraande pad was.

Sal hulle tevrede wees as ons antwoord: “Ons het ons belasting betaal?”

Oud-regter Jan Steyn was destyds die voorsitter van die Stedelike Stigting.

Sakelui-inisiatiewe nodig vir stabiliteit | News24 (2024)
Top Articles
Latest Posts
Article information

Author: Saturnina Altenwerth DVM

Last Updated:

Views: 5727

Rating: 4.3 / 5 (44 voted)

Reviews: 91% of readers found this page helpful

Author information

Name: Saturnina Altenwerth DVM

Birthday: 1992-08-21

Address: Apt. 237 662 Haag Mills, East Verenaport, MO 57071-5493

Phone: +331850833384

Job: District Real-Estate Architect

Hobby: Skateboarding, Taxidermy, Air sports, Painting, Knife making, Letterboxing, Inline skating

Introduction: My name is Saturnina Altenwerth DVM, I am a witty, perfect, combative, beautiful, determined, fancy, determined person who loves writing and wants to share my knowledge and understanding with you.